My laaste hoofstuk en n paar pics volg.
Hartswater tot Microland.
My roete van Hartswater neem my oor Christiana, Bloemhof, Bothaville,Parys, Vanderbylpark, Kliprevier, Springs en Microland naby Babsfontein waar ek tydelik hanger.
Ek ken die roete goed en het dit reeds verskeie kere met die trike gevlieg. Hierdie keer wil ek dit doen sonder om oor te slaap.
My grondspoed is iewers tussen 50 en 60 knts en een na die ander skuif die dorpe onder my verby. Ek voel gelukkig. Die roete is veilig. Ge-oeste mielielande met paaie en veilige landingsplekke onder my is volop. Ek raak vermetel en daag CHG uit om nou maar n engine out te kry maar sy weier.

Sy wil my veilig huis toe bring…Sy weet ek wil eerder vannaand agter Debbie se warm boudtjies slaap as om met haar langs die pad te sukkel.
Tussen Bothaville en Parys voel ek die wind begin ruk en pluk aan my. By Parys is die ruk en plukkery erger en my plan om daar petrol oor te tap laat ek vaar en besluit ek sal dit by Kliprevier doen.
Dit is nou ongeveer 11H00 uur en ek vlieg oor miljoene klein sinkdakhuisies terwyl thermals kompeteer om my voortydig in die hemel te besorg. Op my selfoon wat met Velcro aan die pod voor my vassit het pas n boodskap van Debbie gekom: “ jy moenie nou hier kom land nie want die wind is baie erg”!.
Die laaste been van hierdie vlug is belangrik.! !Baie belangrik. Dit sal n avontuur van ongeveer 5500 km met n ‘trike’ en vlugtyd van 50 plus ure, suksesvol be-eindig. Dit kan nie nou bederf word deur n landing wat verkeerd gaan of n ongeluk nie..
Ek besef ek is die enigste vliegtuig in die lug toe die radio stil word… Ondervinding het my geleer dat die oomblik wanneer omstandighede rondom jou gevaarlik en baie ongemaklik word, word radio-roepe stil want pilots konsentreer dan op vlieg.!! Meer so as jy in n trike vlieg.!!
Ek slaag daarin om veilig by Kliprevier te land en met moeite anker ek die vliegtuig tussen twee hangers. Ek trek my vliegpak uit en gaan le met my kop teen die agterwiel. Die gedagte dat ek slegs 35 knts van my eindbestemming is vul my met vreugde. Ek maak my gemaklik teen die agterwiel terwyl die geraas van die wind wat aan die hanger deure ruk en pluk my laat wonder of ek ooit aan die slaap sal raak.
Van uitputting raak ek aan die slaap en ontwaak uur later toe ek voetspore naby my hoor...Die eienaar van Klip revier, Alan Pepper, luister in verwondering na my storie en gee my sy sel nommer en mail adres en word sodoende die heel laaste weldoener wie ek op my tog ontmoet,.!!
Die oorblywende 35 knts neem my 1 uur 30 min om te voltooi. Wat andersins as n baie gemaklike vlug beskou kon wees het toe in n gespook teen die wind verander wat n uur en half duur.
Met n laaste groet aan n uitgeputte oorwinnaar, demonstreer die wind vir oulaas sy heerskappy en laat my net, net toe om die trike veilig op die aanloopbaan by microland neer te sit.
Toe kom die gevaarlikste deel van die hele trip.!!! Die laaste 20 KM in besige stadsverkeer.!!!
Fluit fluit my storie is uit.!!!
